Op hierdie bladsy wil ons graag ‘n SINVOLLE GESPREK aan die gang kry oor Gesins- of Familiebediening in die algemeen! Ons wil ook hoor van julle suksesse en vrae oor die HOOPVOLLE GESINNE Program. Laat gerus van jou hoor!
________________________________________
(Input Deon Kitching: 27 Junie 2010) Vandat ek besig geraak het met Jeug- en Gesinsbediening kan ek onthou dat laasgenoemde ‘n turksvy met baie lang dorings aan is! Gesinsbediening of Familiebediening is ‘n mooi, soete droom op papier, maar bitter min sien die droom ‘n werklikheid word! Waarom?
Al wat ‘n gemeente is wil graag ‘n florerende Gesinsbediening hardloop. Immers, as die ouers weer hulle roeping besef en kerktoe kom, sal ons meer mense in die erdienste (veral aanddienste) hê, sal ons bidure vol word en ‘n mens kan maar net droom oor hoe die dankoffer-inkomstes gaan styg. Dan hoef ouers nie meer hulle kinders voor die kerk af te laai nie…
Hierdie droom of uitganspunt het ‘n paar aannames gemaak wat eintlik verseker het dat die sisteem doodgebore is:
- Onderliggend hieraan is die feit dat die kerk gewerk het met die ideaal van die NORMALE gesin. Die ordentlike ma en pa en boetie en sussie. Ordentlik. Opgedress. Stywe glimlaggies op hulle plek. Soos Stef Bos êrens sing van die “baan en die huis en die televisie tuis”. Iets wat net in teorie bestaan het en nog nooit ‘n werklikheid was nie. Die spreukwoord: “Elke huis het sy kruis” bevestig dat ons almal se gesinne eintlik ABNORMAAL is. Gesinne ly afgryslik onder die druk van kerk en samelweing om sogenaamd NORMAAL te wees. Ons vaders en moeders se beklemtoning van die Christelik-Nasionale strewe van die Afrikaner, wat swaar steun op die HUIS as ondersteuningsbasis, het mense gedwing om, wanneer dit by gesinne kom, die grootste huigelaars te word. Indien jou gesin iets negatiefs beleef het, is jy as verraaier van volk en samelewing uitgeban. Sien bv die ou Broederbond se hantering van mans wat geskei is in die hoogbloei jare van hulle bestaan!
- Daar is nie iets soos NORMALE gesinne of families nie. Ons almal is ABNORMAAL. So ook ons verhoudings en ons gesinne. Dus: RELAX! Maak nie saak hoe jou gesin saamgestel is nie, (Stiefma, Enkelpa of Ouma wat vir die kinders sorg nie), ons almal is HUISGESIN op grond van die feit dat ons deel is van die HUISGESIN van God in Jesus Christus.
- Die kerk of plaaslike gemeente het dus die voorreg om by dié HUISGESINNE VAN GOD betrokke te wees op ‘n plaaslike vlak,… EN ALMAL IS WELKOM, want ons is almal vrygemaakte sondaars. Ek het ‘n vermoede dis een van die grootste struikelblokke wat gemeentes moet oorkom in hulle soeke na ‘n effektiewe Familiebediening: Hoe oortuig ons mense wat in so ‘n deurmekaar-wêreld, hard werk om gesinne te wees, van die feit dat ons as kerk LOS is van die morele hoë grond wat gesinne net meer en meer skuldgevoelens gegee het?
- Die punt wat ek wil maak is dit: Gemeentes kan ‘n ongelooflike rol speel om gesinne/families toe te rus om as HOOPVOLLE GESINNE die wêreld te gaan deursomer met die son van God se genade, as: a) ons aanvaar dat ons almal ABNORMAAL is, b) dat ons geen “hidden agenda” met ons gesinsbediening/familiebediening het nie (miskien ouderlinge of diakens te identifiseer nie, ens), c) dat die HOOP in Christus saam ontdek word in die EREDIENSTE/PREDIKING, FAMILIE-/SELGROEPE en in GESINSFEESTE self!
- Die Projek HOOPVOLLE GESINNE is ons poging om tot hierdie ideaal by te dra!